Namibia nostalgie #1- Die pan wat nie wou bly lê nie, die bitter dors Kombi en die wonder van ‘n Coke blikkie.

Die terugskouings op die menige safari’s na die land wat ons harte gesteel het, is soos salf vir ‘n moeë covid-siel. Dit is moeilik om te besluit watter toer eerste verhaal moet word. Trouens, by nabetragting, besef ek dat ons meer kere deur ons buurland gereis het as deur ons eie. Nie dat ons land nie sy eie bekoring het nie, net dat die #Namibiasindroom ‘n erge verslawing van ‘n vreemde aard meebring –

1998 – Ek besluit ek kan ook ‘n soort toerleier wees. Ek was mos darem al in hierdie land vantevore. Ons besluit dis weer tyd en nooi Luigi, Christelle, Lucia en Nadia van die Paarl saam. Almal het beskeie kamp- toerusting, maar ek het die mees gewilde toervoertuig van die tyd: ‘n Volkswagen Kombi. Soort van die “Jones’s”. Luigi en familie ry ‘n ‘beskeie’ Volkswagen Polo, wat op die lang duur gewys het waar sy meriete lê. Vriende leen hul sleepwaentjie en dit maak ons spanlede van die eerste liga in daardie tyd. Om als te kroon het ek sopas my ou grys en silwer Kombi verruil vir ‘n magtige en kragtige maroen 2.5! Wat ‘n plesier!

Namibië, hier kom ons!

Van Rhynsdorp afgetrek vir ‘n vinnige stop en bene rek. Ons mik vir die Withuis buitekant Grünau in Namibia. Luigi maak die Polo se bagasiebak oop en kletterend dans ‘n braaipan na buite! My ou vriend moet verseker van gebakte eiers hou! Hoe op aarde die pan ook nog ‘n plekkie in die Polo gekry het, weet nugter!

Kammieskroon – Sjoe, maar die Kombi suip – seker maar die wind van voor! Kom ons speel veilig en maak vol. Kammieskroon is droog, kurkdroog ook aan enige brandstof, so ons druk maar deur Springbok toe. Die Kombi het per slot van rekening ‘n massiewe tenk van 85 liter en ons het dan nou maar eers so ongeveer 480 kilos gery. Daai gevoel van al-hoe- ligter-sit-in-jou-sitplek skop in, ook die fyn balans van voet lig van die petrolpedaal en wel darem nog vorentoe beweeg ook. Ons kom met 30 kilometer kort! Helaas, die Kombi se dors is net eenvoudig te groot!

Lang storie kort: Luigi moes met die Polo brandstof op Springbok gaan haal en so maak die dors Kombi dit darem tot daar. Daar slurp dit ‘n hele 85 liter op terwyl Luigi met ‘n glimlag vertel die Polo het net 30 liter gevat!

Deur die grens en eerste oorslaap by die bekende Withuis van Dolf en Kinna De Wet. ( Dolf is onlangs oorlede. Kort na die skiet van Elders – Namibië. Baie hartseer.)

Polo-bagasiebak oop – en daar val die pan weer uit.

Vroegoggend staan die maroen Kombi reg vir pad vat – oeps, die geleende sleepwaentjie se een naafdop is weg. Iewers afgeval. En nou? Die ‘mechanic’ op Grünau word aanbeveel. In die werkswinkel vol ou kar-onderdele en gewese grassnyers vind ‘n leë Coke- blikkie in die hande van ‘n genie nuwe betekenis. Ons is nie verniet in Namibië nie: hierdie man is ‘n ware German Genius!

Weg is ons! Op Mariëntal maak ons maar veiligheidshalwe vol. Die Kombi suip. Luigi sê die Polo is ok! Deurdruk Windhoek toe. Volmaak. Die Kombi slurp elke liter in die pomp gulsig op. Die Polo vat ‘n slukkie.

Waterberg is pragtig – lekker kamp en bergklim. Ou begraafplaas van die Duitse soldate.

Gavas en Riedemanns

Na heerlike kuier vat ons die pad Etosha toe. Intussen het die pan menige keer ontsnap uit die Polo se bagasiebak!

In Otjiwarongo koop ons ‘n monster van ‘n varknek. Luigi sê hy het ‘n spitbraaimasjien ingepak – battery-aangedrewe. Ons gaan dit op die proef stel. Outjo, hier kom ons! Net eers die Kombi volmaak! Dankie tog vir ‘n oortrokke fasiliteit!

Outjo, waar ‘n Amerikaanse jeugroep lawaai en badkamers bemors! Christelle gaan raas. Luigi en ek laat die spitbraai rol – heerlik!

Etosha is magies. Ons sit by die watergat van Oekukujoe, die dekselse pan en die dors Kombi totaal vergete en onbenullig. Renosters en olifante sorg vir teaterspel en misterie. Wat is die mens? Wie dink hy is hy? Ons is so bitter klein. Hoe verlang ek nie nou hier tydens die Covid- inperking nie.

Halali binne in ons harte gebêre, trek ons af Swakopmund toe. Heerlike Duitse snuisterye en koffie. Kuier in Walvisbaai en ek en Luigi val vir dieselfde meisie –

Wel, sy was maar koud en staties, so ‘n man moet maar aanbeweeg

Heerlike kuier in Swakop, maar tyd om die pad terug te vat! Die Kombi is steeds baie dors en die pan steeds rusteloos. Dink nou net – het ons ooit eiers gebak?

Ons engelkind en Nadia het “gebond”!

Baie spesiale tye met goeie vriende, kosbare herinneringe ten spyte van ‘n pan wat nie wou rus nie, ‘n bitter dors Kombi en helaas, ‘n af hoendertoebroodtjie wat Rox super siek gemaak het.

En, ‘n Cokeblikkie, wat die naafdoppieding moes doen!

As jy jou hart op Namibië verloor het, maak ‘n lastige pan en dors Kombi nie saak nie!

3 thoughts on “Namibia nostalgie #1- Die pan wat nie wou bly lê nie, die bitter dors Kombi en die wonder van ‘n Coke blikkie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s