“Life is a luminous pause between two mysteries that are yet one.”
Wit is die kleur van die eerste vel van die skoon papier waarop jy begin skryf. Die eerste van vele hoofstukke van geboorte tot volwassendheid, hoofstuk na hoofstuk van pret en plesier, van speel en werk, van verlief wees en verlore, van droom en drome werklikheid maak, van seerkry en heel word, van groei en groot word – van leef.
Wit is die kleur van vrede, as die lig vir jou opgaan oor die lewe, van vriendskap en vreugde, kinders en strewe.

Die kleur van adrenalien.







Swart is die kleur van die slot hoofstuk – van die einde. Pers is Genade as die swart net ‘n kort hoofstuk is. Riool-bruin as die swart lank is en die hoofstuk vol pyn en stroping van mens-wees. Genade is die aankoms in ‘n paralelle wêreld waar daar ewige rus en vrede is – natuurlik afhangend van jou kopskuif. Dit kan wit wees of swart in perpetuum. Wie weet dalk ook vlam rooi. Dit kan ook niks wees. Dit kan natuurlik ‘n avontuur wees!

Grou grys is die hoofstuk van verval, die gevoel van nutteloosheid, vrees vir val, vergeet of vergeet word. Die stryd om te veg teen ‘n gevoel van waardeloosheid, redeloosheid en broosheid. Aanvaarding van wat was en nie meer kan wees nie. Ook die feit dat jy nie jou kinders se toekoms is nie. Dat jou kinders en kleinkinders volledig opgeneem is in hul eie periode van wit velle wat vol geskryf moet word – die groot Wit, wat elkeen net een keer beskore is.
MAAR,
Grou grys kan kleur gegee word, anders as swart. Grou grys kan opgehelder word met pastelle. Dit verg net ‘n kopskuif, ‘n ken lig en Voltaren smeer. Natuurlik ook nuwe oë. Reis en verken, bak en brou, lees en luister, vriendskap vertroetel en vertrou en helaas, vrede maak met jouself.






Watter pragtige, inspirerende skrywe! Die foto’s maak my ook bly, veral daardie gelukkige hond op die strand.
LikeLike
Dankie Frannie. Deel van die hartseer is dat ons ook intussen van ons hondjie, Emma, moes afskeid neem. Maar nou ja, dis als deel van die groot geheel nê.
LikeLike