Daar is ‘n tyd vir alles.
As die goudbruin blare na benede begin dwarrel en die aarde bedek met ‘n sagte mat dan is dit ook ons tyd vir aflaai. So asof ons gestroop moet word van ons bagasie, van kommer, van smart – sodat ons kan voorberei vir nuwe groei. Maar eers moet ons in rus gaan.
Hoe onbeskryflik intens is die natuur nie ons rolmodel nie. Dit verg ‘n kopskuif om in rus te gaan – vir ons. Ons moet soveel laat gaan. Ons natuur is om vas te klou.
Die wingerd teen die hange waar ek stap bied geen weerstand nie. As dit tyd is, is dit tyd. Tyd vir rus. Om voor te berei vir ‘n nuwe groei. Versoening met seisoene, met waaroor ons geen beheer het nie.

