Pêrelgiers – al ooit van so ‘n woord gehoor!? Wel die woord “Mahangu” beteken “pearl millet” wat ‘n soort graan is wat baie veeldoelig is as voeding.
Ons was twee keer voorheen by Mahangu en hierdie derde maal onderskryf net weer eens ons sentimente! Die plek is ‘n lushof in die Caprivistreek. Dit word goed bestuur en onderhoud is uitstekend. Ons kamp is teen die rivier met uitsig na die oorkant wat deel is van die groter Bwabwatu natuurpark. Laasgenoemde is onbegrensde natuurgebied of park met olifante, leeus,seekoeie, buffels ens. Dit is ook deels ‘n meerdoelige area, aangesien klein nedersettings langs die B8 deur die park gevestig is waar mense met hul vee boer.
Eers weer terug by die kamp – pragtige ontvangs, soeweniersware, ‘biblioteek’ vir die wat ‘n leesboek vergeet het, eetkamer, dek met kroeg/ koffie en tee, swembad ens.




Hier is baie seekoeie wat bedags lui-lekker oorkant die rivier in die son bak en so af en toe in die water baljaar. Snags is dit ‘n variasie van bulkkommunikasie en snorkery. Laasgenoemde baie soos my eie deur die nag! Vreemde diere.
“Dit skyn of seekoeie verbaal met mekaar kommunikeer; deur middel van kreune en bulke en dit word ook vermoed dat die seekoei eggo-oriëntasie gebruik, maar waarom dit die geval is, blyk onduidelik. Die seekoei is die enigste dier wat dit kan regkry om tegelyktertyd bokant en onderkant die water te kommunikeer, deur hul bek halfbo en halfonder die water te hou wanneer hulle bulk. Ander seekoeie reageer hierop of hulle nou binne-in of halfpad bokant die water is.” – Wikipedia
Laasnag heelwat leeus gehoor, maar geen gesien nie. Die olifante het ook nog nie weer kom drink nie. Heelwat bokke het wel. Hier is ‘n enorme ryk voëllewe. Mooiste koorsang, met supersuiwer soprane en enkele vals note deur ‘n paar jonger lede.
Die bootritte hier gaan ons nie hierdie keer doen nie, aangesien ons reeds dié een by Popa gedoen het, maar uit vorige ondervinding weet ons dit is ‘n ervaring. Vanaand eet ons in die restaurant en môre vat ons die pad Botswana toe. Deur Mohembogrenspos en dan kamp by Droskys Cabins naby Shakawe.
Lekker aandete geniet en nou slapies met sporadiese gebulk van seekoeie wat liefde maak!! 🤩
