
Kersfees in die Overberg! Kosbare momente in Pringlebaai. Hoe verlang hierdie hart nie na die spesiale tye hier nie!
Elke seisoen het sy bekoring. Ryp rooi die pitte van die magiese granaat hier teen laatsomer en vroegherfs.


Ek het beslis te min turksvye verslind hierdie seisoen! Daar is darem die vooruitsig van 5 of 6 pekanneute!
Mens voel half die herfs is vroeg vanjaar en die winter is net om die draai. Laat my dink aan Coenie de Villiers se liedjie waarin hierdie reëls voorkom: ‘Die herfs is in die wingerd/ Die son in elke tros…’

Die Japanese lemmetjieboom maak reeds reg vir die komende winter en die afwagting is groot!
Die knus van die winter is heerlik. Terwyl die natuur gaan rus, bly die rus vir die mens maar net so dikwels uit. Die jaarringe raak vinnig meer soos die tyd uitloop.
Maar intussen sal daar weer lentes wees en momente wat die hart laat bons by die suiwer genot van soveel kleure en die wierook van geure!



