BEAVERLAC


“Thousands of tired, nerve-shaken, over-civilized people are beginning to find out that going to the mountains is going home; that wildness is a necessity” – John Muir
Dag 20 van Covid-19 pandemie afsluiting, isolasie, gevangesetting of wat jy dit ookal wil noem. Ons wetsgehoorsame burgers is nie gewoond aan ‘n tronkbestaan nie. Hierdie is ‘n vreemde toedrag van sake – ons binne en hulle (die boewe) buite! Om die waarheid te sê, van hulle sien toe dat die klein outjie die wet gehoorsaam, terwyl van hulle (die boewe) vrye toegang to drank het – dit, terwyl ons voorraad uitgeput raak! Wel, ‘Life ain’t fair”! Maar helaas is dit nie vir my ‘n saak nie. Om ‘n slag super sober te wees is goed vir die liggaam en gees. Wat nie goed is vir die liggaam en gees nie, is die intense nostalgie wat hierdie tronk bring. Ek begin elke dag meer voel soos Gulliver wat net met meer toue en tentpenne vas geklem word teen hierdie stukkie grond.
‘n Mens kan baie dinge doen in afsluiting en ons mense se vindingrykheid toon geen perke nie – Youtube videos van stupid dansies, toneelspel of moers snaakse (tot op ‘n punt) Whatsapp Corona grappies of lewenswaarhede rondstuur, huisprojekte aanpak wat jare reeds geparkeer staan, tuinmaak, “masterchef’ speel ad nausea, beskuit en brood bak dat jou skaal begin kraak by die geluid van die oond wat aangaan. Natuurlik kan mens ook meer dinge doen wat waarde toevoeg, soos lees en musiek luister! MAAR, op ‘n stadium begin die suurstof uitloop, groei die donker en trek die keel toe.
Dit is op hierdie punt wat die hart en die geheue begin oorneem, of jy wakker is of slaap, of jy brooddeeg knie of jou ingelegte olywe se soutwater vir die 50ste maal vervang. Die aansteek van die vuur vir die soveelste Coronabraai en die tuur in die vlamme wat vry en vrolik dans, is die laaste strooi en die verlange na buite en na kamp, weg van almal en alles, begin brand soos gloeiende kole deur jou……
Soos gister, sit Emma reeds en wag – “kom ons ry mense, wat is julle probleem!”

Ag mens, en was dit lekker! Heerlik weggesteek in die Olifantsrivier bergreeks bokant Porterville, Wes Kaap. Die uitnodiging: “Come and fly the skies where black eagles soar, hike the paths of the leopard, climb the rocks where baboons play and spend some time at a rock pool each day”
Charlotte bring ‘n hele sak vol varsgeplukte lemoene. Nog nooit het enige lemoen so gepro nie, en geen wonder nie want, verduidelik sy, ‘n nuwe varieteit vir uitvoer na buiteland.
Op met die Dasklippas ( nie grappies vir ‘n gewone karretjie nie) net newens van Portervile en hoog in die berge wag die heling van Beaverlac in die vallei met sy pragtige lemoenboorde. Buite seisoen en skool – dis doodstil en Charlotte by die Ontvangs cum winkeltjie is warm en vriendelik. Net ons en 2 ander pare. Staanplek te kus en te keur. Goue herfsblare teen die intense groen lemoen bome met die goue vrug verf die landskap wat aan die voete van die oerkranse rus. Dit is asemrowend mooi. Beaverlac is ‘n werkende boerdery, knus by die Olifants en die Ratel riviere. Ons slaan kamp op naby die vol-in-vrug lemoenboorde. Net ons – ek, Rosebud en Emma. Ons weet nie van inperking of gevangesetting nie. Ons is vry , volkome vry.



Wandelpaaie lei na rotskuns en riviere, watervalle en drome, heerlike sonbak op die lyf en mooi drome op warm rotse. Afsluiting hier is heling.

In hierdie vreemde tyd van Corona hunker hart en siel na die musiek van ‘n waterval, kabbeling van ‘n rivierstroom, herfsson op die voorkop en drome wat deur jou spoel.
As ek maar net weer vry is………..

