
From the day we arrive on the planet
And, blinking, step into the sun
There’s more to see than can ever be seen
More to do than can ever be done
There’s far too much to take in here
More to find than can ever be found
But the sun rolling high
Through the sapphire sky
Keeps great and small on the endless round
It’s the circle of life
And it moves us all … Elton John/ Tim Rice/ Lebo M & Carmen Twillie uit ‘The lion king’
Ons was seker so 5 en 8 onderskeidelik, begin sestigerjare, en reeds lekker stout nefies! Wel, oor die algemeen ‘mooi’ stout. Net normaal. Ons ma’s was susters. Ver uit mekaar gewoon – ek in die Weskusdorpie en hy op die plasie by Jan Fourieskraal langs die sementpad wat Calitzdorp en Oudtshoorn verbind. Min kans gehad vir speel en baljaar, behalwe vir die tradisionele einde- van-die-jaar-familiekuiers op Hartenbos.
CP het sy pa vroeg verloor, reeds om en by 1961, wat beteken dat hy toe maar 6 was. Ons trek van die Weskus na Hartenbos toe het sonder uitsondering oor Jan Fourieskraal gegaan waar Ant Rose se plaaswinkeltjie vir ure se pret gesorg het. Die weeg van die rys, suiker, droë bone ens.op die ou skaaltjie met die koper gewiggies was groot pret en die geldjie wat ons daarmee verdien het,het lekkergoed gebring. Hierdie ekonomie het gewerk! Maar die pret van nefies se saamspeel was onvergeetlik. Agter die huis teen die groot grondwal is paadjies en bergpasse uitgekerf en aan die voet van die ou “berg” die mooiste plase uitgelȇ en bedryf! Dinky Toys was toe groot. Langs die treinspoor wat vlak agter die werf verby geloop het, het ons vergeefs probeer om, as deel van “cowboys & crooks”, die trein te laat ontspoor: die klippies wat ons so skelm op die spoor geplaas het telkens die lug ingeskiet as die trein verby stoom. Van die ouer neefs en niggies het ons, in ons eie verbeeldingswȇreld, bykans vergeet!
Kuiers op Kruisrivier by Tant Babs ( nog ‘n sussie van ons ma’s) was ewe groot pret. Draf met die skuins voetpad na die rivier toe. Swem in die rivier, kleilat gooi en met die windbuks aanlȇ om die bosluisvoels van die koeie se rûens te klits! Stories om die Agastoof as ons aan Antjie se lippe hang.
Hartenbos was egter altyd die hoogtepunt met al die neefs en niggies daar. Die Potgieters uit die Noorde met hul karavaan, Oom Ockie hulle by Bloublasie, Tant Rose se ou reuse “Army” tent met sy vertrekke en ons in ‘n huurhuisie.See en sand, krieket oor die radio, Kakebeenwa-Oukersaand as ons volgens ouderdomsgroepe ons geskenkie gaan haal het, en die reuse Nuwejaar sportbyeenkoms waar een en almal kon deelneem aan Boeresport en atletiek-items. Die Terblanche-en Potgieter-neefs was uitstekend met atletiek en het gereeld bekertjies ingepalm. So ook natuurlik CP! Hy was later rȇrig moeg van al die kakebeenwaentjies wat hy elke keer gewen het!
CP het groot pret verskaf aan oud en jonk. Vir my oorlede pa het hy met oorgawe Cliff Richard se “ Living Doll” gesing en as my pa dan sou sê hy sou hom ‘n geldjie gee, maar hy het nou ongelukkig net ‘n pondnoot, dan was CP vinnig met: “ Ag Oom Johann, gee dan maar die ou pondjie wat!”
Na my eie pa se dood in 1964 het die kuiers voortgegaan en is wonderlike tye beleef. Maar die jare 1961 tot 1964 het ook bittere smart vir ons familie gebring. Dalk meer vir die grootmense as vir ons, maar die onwerklikheid het ook by ons kom lȇ. Oom Louis, CP se pa, is oorlede, Ouma Alet het terminaal siek gelȇ by Tant Babs op Kruisrivier en toe die seerste seer toe Oom Kerneels en Tannie Estertjie verongeluk het en twee neefs en twee niggies wees gelaat is. Ons nefie Niel was maar 6 en Essie so 12. Daarna my eie pa. En die lewe bewys weer eens hoe broos en verganklik ons is.
Soos dit moet, stap die lewe vir ons ander aan en bring die realiteit van grootword ook stelselmatig afstand as elkeen sy eie pad begin loop. Toenemend so as die ouers begin wegval, neefs en niggies trou en pad vat, elkeen sy loopbaan uitkerf en kinders kry. Nuwe familiekringe word gebou en die lewe hardloop met ons almal weg.
Ek kan nie eers onthou wanneer ek vir CP as jong man ná universiteit weer gesien het nie. Dit is hartseer, maar waarskynlik die natuurlike verloop van die lewe. Dit is bykans asof neefs en niggies voor die warm son van die dag verdwyn as jy jou eie son geniet met vrou en kleingoed.
Tog verander dinge weer as jou naderende sonsondergang meer dinktyd en nuwe perspektief bring. Bloed is per slot van sake dikker as water! Na vele jare van afsloof vir oorlewing, blokkies afmerk in jou werk en ouerskap, kom daar weer tyd vir terugkyk, nostalgie en verlange. Dit was Etna se insig om eerste ‘n saamkuier te reël op Vermont, waarna nog ‘n paar gevolg het – ‘n verfrissende vars kontak wat die nostalgie kom salf het en die meeste van die neefs en niggies weer bymekaar gebring het. Tog vreemd hoe die lewe loop en mens gedurende die middelfase voortstoom in die rotresies.
Hoe dankbaar is ons nie nou vir die weer-vind van ons eie bloed nie, die heerlike lag vir staaltjies uit die verlede, geseënde saamwees oor lekker kos en wyn en die diepe besef van dankbaarheid vir geleende tyd.


Ou CP, jou vertrek was so onvoorspelbaar vining, veels te vroeg, en boonop gaan jy die Potties-reünie mis! Ou neef, rus sag, en mag ons ander gespaar bly om die 7de Augustus met ‘n traan in ons lag ook jou lewe te kan vier op Kruisrivier Jy sal daar wees by ons en in ons harte.
























































