Is dit nog daar? Beleef ons dit nog? Die pas is so vinnig vir ons kinders en dikwels te traag en vol seer vir die oues. As ons daagliks ons stukkende aardbol betrag en die seer ons begin verteer, hoe vertrek ons na ‘n plek waar Verwondering weer heelmaak?
Daar is so ‘n plek, of plekke inderdaad, hier by ons of naby ons. Dit verg net die oë van ‘n kind of ‘n kopskuif van die hart.
Met Lia se kuier laas week, saam met Mammazanie en Oom Charles uit die Vrystaat, het Ouma en Oupa se koppe begin wonder oor verwondering en lekker vir Lia. Al is ons Lia, in sussie Amelie se afwesigheid, heeltemal in staat om haarself besig te hou met haar kunstalent en selfoonmaatjiegeselsies en -speletjies wou Ouma-hulle die kuier super- lekker maak!
En toe word die week sommer volgeprop met verwondering! Maar die verwondering is net soveel groter as ons grootmense ons kinder-brille opsit!
Oom Hanno, self ‘n eertydse duikbootbevelvoerder, stuur ons deur die wonder van ‘n duikboot by die nuwe museum in Simonstad! Die voormalige Johanna van der Merwe, daarna SAS Assegai (S99), rus nou, maar is steeds besig om ieder en elk se asem weg te slaan met die tegnologie van haar tydvak. Enorm groot en swaar, amper soos die grootste walvis ooit! Elektronika en meganika met honderde skerms, meters, kontroles, drade, pype en ontwerpersvernuf! Weggevoer is ons van die wêreld daar buite en ons verwondering is vir ‘n oomblik soos dié van ‘n kind. Des te meer as Lia “beheer” neem van die duikboot!







En na hierdie verwondering: Kaappunt, waar ons ook jare gelede laas was. Verwondering oor die ongelooflike vistas, maar ook aan die massas toeriste aan ons mooi Kaap! Lia geniet die rit in die kabelkar (Funicular). Ons ook! https://en.m.wikipedia.org/wiki/Flying_Dutchman_Funicular
Die trappe kou Oupa, terwyl Lia soos ‘n klipbokkie op trippel!






Wat ‘n dag van verwondering!
Dit was aand, en dit was oggend, die volgende dag. Nog ‘n dag vir verwondering.
Die Kaapstad Akwarium – verwondering, bewondering en diepe vreugde oor hierdie ongelooflike fantasiewêreld in die waters van ons planeet se oseane.
















Wat weet ons?
Die derde dag van verwondering neem ons na Kirstenbosch Botaniese Tuine. Die natuur se prag en praal stroop jou vir ‘n wyle van die siek ou stukkende wêreld wat jou elke dag deur sosiale media met Trump wil troef en treiter. Diep asemhaal, afskakel en verwonder! Heling vir vlees en gees!







Deur die oë van ‘n kind. Daar lê verwondering. En dan kom Coenie De Villiers se pragtige Daar’s ‘n plek weer by my op….
Daar’s ‘n plek wat ek van weet
Sonder sorge, sonder pyn, sonder leed
Die pad daarheen is ongekaart
Die reis daarheen is sonder vaart
En daar is rusplek langs die pad
Die son se geel word jou sambreel op jou reis tot waar die pad se vurk verdeel
Die een se slingerspoor word dof
Waar dit wegloop in die stof
Maar die ander lei tot hier
Want hier sal jy vind dat jy steeds deur die oë van ‘n kind
Die lewenspel speel, granate van onskuld kan deel
Om weer vir ‘n oomblik die kennis van kwaad te ontken
Om weer te kan glo wat jy het is ‘n gawe van bo
Daar’s ‘n winterlose oord
Waar ‘n mens nog steeds die ure ongestoord
Op die telraam van die tyd
Sonder spyt of klein verwyt
Soos seisoene af kan tel
Knip jou deur se grendel dig
Sluit jou vensters en jou luike teen die lig
Pak jou drome vir die reis
Jou hart sal jou die kronkels wys
Om ongeskonde hier te kom
Want hier sal jy vind dat jy steeds deur die oë van ‘n kind
Die lewenspel speel, granate van onskuld kan deel
Om weer vir ‘n oomblik die kennis van kwaad te ontken
Om weer te kan glo wat jy het is ‘n gawe van bo
‘n Gawe van bo
‘n Gawe van bo
(Gawe van bo)
‘n Gawe van bo
‘n Gawe van bo
Source: LyricFind
Songwriters: Coenie De Villiers

















































































































