
Sedert aftrede in 2017 is 4 van my ou kollegas en vriende reeds deur die poort na die ander wêreld. As jy 71 jaar gegun is weet jy wat genade is, maar neem die vrae ook toe. Teenstrydigheid – maar dit verg intense perspektief. Ons weet en verstaan bitter min van die lewe. Ons kennis is so ongelooflik beperk. Wat ons wel behoort te verstaan, is dat geboorte en sterfte twee kante van dieselfde munt is. Ons aanvaar dat ons in hierdie dimensie gebring is deur wil en beskikking, asook begeerte en liefde, maar ook as geskenk en vergunning.
Hierdie fase is onwillekeurig een van ‘n mengelmoes van emosies – vreugde, kommer, liefde, leed, woede, vrae, wroeging en net eenvoudig nie- weet. Net ‘n kleine spikkel in die geheel – tog daar en hier.
Terugblik is vir elkeen ‘n vingerafdruk – en nou is alles in ‘n sin volbring. Harte vol geprop van dank en trots. Harte gebreek, verskeur in flarde van onbeskryflike smart. Harte vol kommer. Harte vol trots. Harte verward. Harte vol vrees. Harte wat smag na ewige rus.
Tyd ook vir wyer perspektief – ‘n mensdom het sy skepping gefaal – honger, dors, naaktheid en wraak. Pyniging, dood, in ruïnes van waansin van gewetenslose verraad. Wat is my bydrae?
Sag is die sakkende son van vergiffenis, van troos, van onthou en in ‘n ou hart met liefde toevou.
Nou tyd vir stil word en vrede vind – rus vind. Om te weet alles is net genade. Om die kleinste en minste intens te sien en waardeer.

Kyk mooi!
























































