Die misbank oor die see het die nag grou en nat gelaat, maar hier op my bankie teen die strand bak ‘n warm sonnetjie teen my nek met die nuwe dag se aanbreek. Die see stoei nog met die nag se grys as ek ver oor die horison ‘n ander paralelle werêld sien in my kop.

Selfs die meeue het gou kom groet! Vriendelike voëls, behalwe vir een raasbek. Maar baie soos die mens!

Ons het besluit om gou uit te ry Doringbaai toe. Ou vissersdorpie so 10 km suid van Strandfontein. Ek was laas daar toe ek en Johann, toe in matriek, een Saterdag soontoe gery het met die ou kombi om ‘n tweedehandse klavier vir Nella te gaan koop! Soos menige plattelandse pronkplekkies het tyd en nuwe dimensies vrot en verval van die ou tye van vooruitstrewendheid gebring. Hartseer. Wat eens ‘n aktiewe vissershawe was, vertoon nou soos die kuns in verganklikheid.

Maar aan die positiewe kant: hier is tog inisiatiewe wat hoop onderstreep. Die weskus se enigste wynkelder setel in die ou visfabriek! Fryers Cove Winery het ‘n mooi verhaal. Gaan kyk bietjie!!


In 2011 het die Weskaap ‘n inisiatief ondersteun om ‘n trust te skep vir die vestiging van ‘n perlemoenplaas. Hierdie projek het die gemeenskap betrek en die vakuum wat die ineenstorting van die visserybedryf gelaat het help vul. Armoede is steeds groot, maar daar is tog hoop. As perlemoenstropers net eerder hierby betrokke kon raak.
http://doringbayabalone.co.za/

Die hoop beskaam nie.
Midde die verweerde en geroeste reste van ‘n eens heel besige vissershawe vind ons die proelokaal van Fryers Cove en ‘n eenvoudige eetplekkie. Lekker bordjie met roosterkoek, camembert, groen vye en ‘n gerookte snoekkoekie!!! Smul verby!

Ons koop ‘n wyntjie en gaan verken verder langs ‘n semi 4×4 paadjie teen die see. Mooiste poele en in ene iets wat lyk soos ‘n jellievis selfmoord!

Nog mooi vistas as Rosebud deur die poele snuffel!

En, soos die grys weer oor die see kom kruip teen laatmiddag doen ons ‘n laaste stappie langs Strandfontein se strand voor dit vuuraansteektyd word. Die seeumeeue begin rustig raak en in ‘n kleine rotspoel verslind ‘n anemoon ‘n krap! Die see gee en die see neem. Die kringloop van die lewe.

Die see se simfonie maak my rustig en die vaak kruip oor my soos ‘n sagte seemis. Tot nog ‘n nuwe dag as uit Gawe gegun. Nag!















































