Waar die koeie wei in die wingerd.

Elke oggend se stappie bring iets nuut! So verfrissend en inderdaad groot motivering!

https://hbr.org/2021/02/dont-underestimate-the-power-of-a-walk

Ons is so bevoorreg om stapafstand van baie van ons wynplase te kan woon! Weet ek het dit al dikwels gesê, maar waar die hart van vol is loop die mond van oor!!

Bloemendal, D’Aria en Altydgedacht. Maastricht is bietjie verder wes.

Ongeag die seisoen is daar altyd iets wat jou verras!

Vanoggend het D’Aria se beeste hoog op gewei en was Rumi  baie geinteresseerd! Wat maak julle hier!!!

Twee koeie het op ‘n manier in die wingerd beland en lustig “gewei” aan die jong wingerd lote! Die trosse hang meer knus en dit het werklik gelyk asof die koeie besig was om net die wilde lote te “snoei”! Hierdie is normaalweg die werk van ‘n wingerd span. Wel, innoverend of toeval!!!

Daar is altyd iets nuuts!

Tyd om terug te stap! Rumi is in haar element!

Rumi kruip weg!

2025  – Jaar van mylpale

Dit is die derde dag van die nuwe jaar.

Wat maak hierdie jaar spesiaal? Wel, baie dinge, reken ek!

Vir ‘n begin – ek en Roos is 50 jaar getroud. Rozanne, ons meisiekind, het weer ‘n goeie vriend en vrede. Ons seun, Johann, gee sy hart vir sy pasiënte, ons Nella is  hierdie jaar reeds 20 jaar ons engelkind en ons hondekind, Rumi, is self ‘n engel op aarde.

Ons neem so dikwels alles as maar ‘n gegewe aan. Hoe kortsigtig! Wat is binne ons beheer? Rede, rasionaliteit? Ons strewe na die insig en wysheid van die redelike man? Nietige klein wesens met min beheer oor wat môre gaan bring. Tog bly die mens deur sy natuur grootbek.

Dit is die klein dingetjies wat saak maak. Die môredou, die uitstulp van ons granate en grenadellas, die voëls wat vroeg oggend kom dankie sê vir die saad in die bakkie wat hang aan die lemmetjieboom.

Wat is die mens op hierdie bal,  wat op ‘n “high” is danksy die Son?!

Kyk na die werêld en vrede bly uit. Kyk na jou kinders en kleinkinders en vrede kom lê knus in jou hart.

Nag, op die derde dag….

Geen Nuwejaar vir hierdie bokkie nie.

Die jaar is vars hier, op maar die 2de dag daarvan, as ons drie ons oggend stappie doen. Ek, Roos en Rumi vat die paadjie langs die wingerde van Bloemendal in die rigting van die Tygerberg. Hierdie boonste deel van die Majik Forest lyk net so vars vanoggend soos die jaar.

Rumi in haar element

Met ons dwars draai na die volstruise en rammetjierof verstar ons! Die lykie van ‘n alleen bokkie! Die slagoffer van ‘n rooikat? Sielig. So hartseer. Hy het nie eers die nuwe jaar gesien nie. Beeld van die broosheid van die lewe. My hart bloei vir hom. Dit is die realiteit van die lewe.

Arme bokkie

https://www.inaturalist.org/taxa/42376-Raphicerus-melanotis

Dink dit was ‘n klein Kaapse Grysbokkie.

Wie weet waar hy nou is? Teer, fyn en nou waar ons nie weet nie.

Perspektief. Ons versugting daarna.

Intussen is volstruis en sy wyfies vrolik in hierdie nuwe jaar.

Life goes on.

Die eerste dag.

Vandag is die eerste dag van nog ‘n nuwe jaar. Hoeveel was daar nie reeds nie? Genade of genoeg? Klink sinies nê?

Dit is nou reeds maande sedert ek laas kon skryf. Iets het net ‘n demper gebring. Geen idee wat en waarom nie. Net droogte, leegte en lamheid. Dit, tenspyte van Genade en goeie dinge. Net niks. Weet nie hoekom nie.

WordPress se kennisgewing van hernuwing teen ‘n goeie klompie dollar klop in die kop en verg ‘n besluit! Wel, dobbelsteen gerol en kom ons probeer dan maar weer. Daar lê nou reeds 3 konsepte vir meer as ‘n jaar!

Dalk moet ons weer probeer!

Waarvoor is ek dankbaar? Baie, maar sê dit nie! Gesondheid en die vermoë om nog te kan stap! Elke oggend en aand! Met Vroutjie en Rumi, maar soms net Rumi! Ons bly net duskant die hemel. Natuurparke en wingerde!

Rede om dankbaar te wees hier in die begin van 2025.

Mag dit ‘n goeie jaar wees!

19 jaar………..

23 September 2005 –

23 September 2024

Jasmyn

Sê vir my -
het 'n mens se siel 'n geur,
jou hart 'n kleur,
jou gees, jou diepste wese
vryheid?

Wat is in 'n naartjie
en wat is in kaneel,
in jasmyn en 'n freesia se geel
of is dit als maar reuk
of wat die oog kan steel.

Is donker altyd swart
en rooi ook maar net seer,
verlange pimpelpers
en kan groen maar net verteer
of kies ek wel my kleur,
my siel se eie geur.

Dis lente in die Kaap -
son verf pink oranje
op vroegaand wolkedoek
bo Du Toitskloof hang,
wat bring my hart verwarring
vreugde of verlange,
pastelle vir my siel.

My hart -
September in die Kaap
verf son se kwas net koper
strepies deur my kop,
soek ek tog so na wierook
vir my siel - jasmyn -
om deur my hart te spoel.

Die ink in my pen is droog

Maande het verloop sedert my laaste storie. Hierdie droogte is verterend. Voel soos ‘n koma. Aan die teenkant kognitief. Teenstrydigheid in terme. Wat is fout?

Dit is asof my pen se ink opgedroog het… Daar is net niks. My kop maal. Kinders word ontvoer en verdwyn net. Niks gebeur nie en hulle word vergeet. Dieselfde bedelaars staan by die kruisings. Die Malawiërs deel hul kontakstrokies uit. Die kombersman kruis die pad en ek wonder waar het hy laas nag geslaap. Ek stap met die hond en kry die vreemdelingwerksoeker by die spruit. Hy was homself en sy klere. My buurvrou is terminal. My seun is ‘n onkoloog en ek leef sy vreugde en verdriet. My dogter is ‘n arbeidsterapeut en deel privaat haar hemelkinders se vreugde.

Ek sien werêldleiers sogenaamde lewenswyshede uiter – vir politieke gewin. Nog ‘n skuiling in Gaza word vernietig om een terroris uit te haal en talle kinders sterf. Ek sien ‘n bykans drie jaar oorlog in Ukraine wat niks anders lewer as dood, verminking en vernietiging nie. Ek sien idiote politiek bedryf. Ek sien dapper atlete by die paralimpiese spele alles gee. Ek sien en hoor sogenaamde wêreldleiers wyshede spreek vir eie gewin.

Ek sien familie en vriende treur oor die verlies van ‘n geliefde. Ek lees blogs hieroor.

Ek kyk na die wêreld om my. Die ink in my pen is droog.

Ek sien versteurde verhoudings in families en skoonfamilies. Tussen bure. Tussen mense en hul diere. En ek wonder.

Ek dink aan Michener se verhaling van “The Source” en hoe die Midde Ooste op hierdie moment lyk. Suid Amerika se kartelle, die idiote in Amerika, die EU se migrante en Afrika se komediante.

My pen is voorwaar droog.

Ek dink aan my hond.

Ek dink aan die by.

En ek wonder……

Ek sien

En wonder….

Wat is die mens?

Is die Skepper ontnugter?

Die ink in my pen is droog…..

What has man become?

‘Bombing everywhere’: As Israel renews war, my eight-year-old has questions https://www.aljazeera.com/features/2023/12/1/bombing-everywhere-as-israel-renews-war-my-eight-year-old-has-questions

What has man become? A monster with no consience and not a grain of love left. Love betrayed. The fundamental Law rejected. Monsters. It matters not if you have been brain-washed re either Jew or Gentile. You and you alone will have to account.

“And whoever welcomes a little child like this in my name welcomes me. But if anyone causes one of these little ones who believe in me to sin, it would be better for him to have a large millstone hung around his neck and to be drowned in the depths of the sea – Matt 18″

“God forgives many things, but God never forgives us the wrong we do to a child” – Fiela Komoetie – Fiela’s Child – Daleen Matthee.

Ek is so moeg vir hierdie siek wêreld….

Die lelies van die veld.

Ouderdom en nabetragting raak op ‘n stadium soort van sinoniem. Wel, ék weet wat ek hiermee bedoel. Dít is die belangrikste.

Op hierdie stadium is die brein se argief so vol lêers, sommige noodgedwonge “gezip”, ander ver agterin gebêre, nog ander heel voor en nog ander gevlag.

Onlangs is nog ‘n volume in die kategorie: “Nietigheid van die mens” oopgemaak. Nodeloos om te meld dat daar legio volumes oor hierdie onderwerp is : “Die mens se hart”, “Die mens se doel”, “Die mens en sy mense”, “Die mens en sy gewete”, “Die mens se onmenslikheid”, “Die mens en sy grootheidswaan”, “Die mens en sy mislukking”, en nog veel meer.

Met die gereelde stap in die natuur het ek onlangs weer ‘n beeld van die mens se verganklikheid waargeneem.

Oor eeue heen is die beeld van die lelies van die veld in baie godsdiensgeskrifte gebruik om die mens te laat verstaan dat hy die kommer oor baie aspekte van sy lewe uit sy hart moet weer. Dit laat die mens goed en knus voel. En dan? Dankbaarheid en liefde? Nee, geen ag slaan op die lyding van die massas nie, arrogansie wat net toeneem en lewe asof vir ewig.

Die Wet van die Liefde word met minagting bejeën. Dit gaan net oor Nou, Meer en Dadelik. Dit is waar die lelies van die veld nog ‘n ander veel sterker boodskap inhou: die realiteit van die totale verganklikheid van alles wat ons ken, van onsself en ons planeet.

Môre sterf die mens – met ‘n nalatenskap van koue genadeloosheid teenoor miljoene wat vermoor, vermink en honger gelaat is. En wat dan?

Die einde van ‘n seisoen