Maande het verloop sedert my laaste storie. Hierdie droogte is verterend. Voel soos ‘n koma. Aan die teenkant kognitief. Teenstrydigheid in terme. Wat is fout?
Dit is asof my pen se ink opgedroog het… Daar is net niks. My kop maal. Kinders word ontvoer en verdwyn net. Niks gebeur nie en hulle word vergeet. Dieselfde bedelaars staan by die kruisings. Die Malawiërs deel hul kontakstrokies uit. Die kombersman kruis die pad en ek wonder waar het hy laas nag geslaap. Ek stap met die hond en kry die vreemdelingwerksoeker by die spruit. Hy was homself en sy klere. My buurvrou is terminal. My seun is ‘n onkoloog en ek leef sy vreugde en verdriet. My dogter is ‘n arbeidsterapeut en deel privaat haar hemelkinders se vreugde.
Ek sien werêldleiers sogenaamde lewenswyshede uiter – vir politieke gewin. Nog ‘n skuiling in Gaza word vernietig om een terroris uit te haal en talle kinders sterf. Ek sien ‘n bykans drie jaar oorlog in Ukraine wat niks anders lewer as dood, verminking en vernietiging nie. Ek sien idiote politiek bedryf. Ek sien dapper atlete by die paralimpiese spele alles gee. Ek sien en hoor sogenaamde wêreldleiers wyshede spreek vir eie gewin.
Ek sien familie en vriende treur oor die verlies van ‘n geliefde. Ek lees blogs hieroor.
Ek kyk na die wêreld om my. Die ink in my pen is droog.
Ek sien versteurde verhoudings in families en skoonfamilies. Tussen bure. Tussen mense en hul diere. En ek wonder.
Ek dink aan Michener se verhaling van “The Source” en hoe die Midde Ooste op hierdie moment lyk. Suid Amerika se kartelle, die idiote in Amerika, die EU se migrante en Afrika se komediante.
My pen is voorwaar droog.

Ek dink aan my hond.

Ek dink aan die by.
En ek wonder……
Ek sien

En wonder….

Wat is die mens?
Is die Skepper ontnugter?
Die ink in my pen is droog…..






































