Vrystaatterapie

Sopas terug van ‘n verfrissende en terapeutiese Vrystaat-kuier volgeprop met verskeidenheid!

Afgeskop met die opedag van Tswellang Special School voorberei en aangebied deur die beste dogter op die aardbol, Mamma Zanie, ons eie meisiekind, Rozanne Riedemann. Wat ‘n belewenis by hierdie ongelooflike skool vir fisies gestremde kiddies. Hierdie instelling getuig van ongereserveerde liefde en omgee. Hierdie kinders se vreugde ten spyte van hul gestremdheid moet jou diep raak en wakker skud, anders het jy ‘n hart van klip. Gaan na hul webtuiste, maak ‘n donasie en kry ‘n artikel 18 belastingsertifikaat!

Intussen het Rumi vinnig vriende gemaak met Buddy en Karwats tuis, maar nie met die Bloem-katte nie. So dan en wan was daar ‘n skermutseling met Ouboeta, die mannetjieskat,en het die wonde geleidelik meer geword! Die flou Vrystaatsonnetjie het darem  almal bietjie sluimerig gemaak en daar is vrede.

Saterdae is Boeremark in Bloem en jou jaarkalender is elke liewe Saterdagoggend bespreek vir die heerlikste snuffel deur die talle stalletjies en natuurlik pannekoek en koffie! Maar, moenie die lewerkebabs, hoendersosaties en Halloumi misloop nie! Baie van hierdie stalletjiemense kry duidelik ook swaar in hierdie tyd van ekonomiese “depressie” en jy moet respek hê hiervoor. Die Saterdagprente wys jou ook die vrede en vreugde van ‘n reënboognasie, als sê die klakous-samelewing ook wat!

Saterdagaand vier ons Mia Smith se verjaarsdag by een van die beste pizza-restaurante wat ek ken – Bella Casa, maar ek verander die naam in my kop en dit word Casa Mia. My gunsteling bly die eiesoortige Peri-Peri hoederlewertjiepizza! Rozanne het ook vir Mia ‘n verjaarsdagkoek gebak!.

Mia
Heerlike kuier!

Daar is maar geen beter medisyne as lekker geselskap en vrolike harte nie!!

Dit was maar net die begin!

Sondag vier ons Moedersdag en die moeders ontvang elkeen ‘n paar warm pantoffels en snoesige kinders in die bed!

Besige week – ek en ouma Rosemarie tree op in loco parentis as ons die Oranje Meisies gaan haal. Sjoe! Wat ‘n verkeersbondeling! Daarna volg ‘n vreeslike besige program – Lia het hekkies by oom Fanie op die sportgronde van Grey, Amie oefen hokkie en die koor berei voor vir die jaarlikse Applous-uitdunne! Amie het ook nog hokkie-oefeninge by die skool en ‘n toernooi by KOVSIES se gronde. Sjoe! Weet nie hoe die mammas dit hou nie!!!

En toe ‘n absolute hoogtepunt – my heel eerste besoek aan die NAMPO-skou in Bothaville saam met Charles Smith, Nuushoof, Netwerk24, Vrystaat & Noordkaap. Wat ‘n ervaring!! Verseker die grootste skou wat ek nog bygewoon het. Landbou et al! Ná die Trump-eskapade ‘n hartstrelende waarneming van ‘n kalm, verfrissende, veelrassige en gelukkige Suid-Afrika. Wit en swart boere intens geïnteresseerd in prima boerdery – niks anders nie!

Inspirende ervaring! Van hierdie masjiene kos by die R18m en met die terugstap hang daar hier en daar “sold” borde! Hier is natuurlik ook ‘n monument ter nagedagtenis aan die vermoorde  boere met rye en rye name –  jy kan nie help om die seer en wrewel van soveel familielede in jou hart aan te voel nie. Tog is daar hoop as mens die opgewonde besprekings tussen swart en wit boere waarneem, asook by die talle skoolgroepe van ons reënboogland.

Terug in Bloemfontein was ek en Charles net betyds vir die verrykende Afrikaans 100-viering by KOVSIES. Hierdie spesiale geleentheid is aangebied deur die Departement Afrikaans, Nederlands, Frans en Duits o.l.v. Prof Francois Smith, Charles Smith se broer. Wat ‘n belewenis!! 

Prof Hambidge is ‘n meesterlike spreker en dosent en Frazer Barry  se musikale verering van Afrikaans was raak en  verfrissend!

Vrydag die 16de – ná skool die kids kry, pak en ry! Bestemming: Zeekoegat buite Rouxville, familieplaas van die Smithfamilie. Ryke familie- geskiedenis met voorsate wat Noord getrek het uit die Kaapkolonie, wat gely het tydens die Anglo-Boere-oorlog, soos waarvan die oorblyfsels van die oorspronklike  plaaswoning wat afgebrand is, getuig. Stories van bitter swaar en seer vloei uit die vertellings rondom die talle ou familiefotos teen die muur. Oupa Hendrik was ook prominent in die destydse politiek en in die Parlement. Die aangrensende plaas Mispa is ook deel van die Smith-erfenis.

Wat ‘n heerlik verfrissende naweek op Zeekoegat! Rumi is in haar element saam met Buddy en Karwats! Herfs skilder die mooiste prente en ‘n hart kan nie anders as vrede vind nie.

Ons stadsjapies geniet hierdie heerlike plaaservaring! Rumi is in ekstase en volg vir Buddy en Karwats asof sy deel is van ‘n trop! Soveel reuke en wesens – skape, perde, plaashonde, hoenders. Ongelukkig ontdek Buddy en Rumi een van Pretty se spoghane in die tuin. (Pretty help in die kombuis en is baie trots op haar hoenders). Buddy is toe die skuldige wat die haan aan sy stertvere beetkry en ‘n paar goeie skudde gee dat die vere behoorlik waai! Haan het dit gelukkig oorleef, alhoewel met ‘n gekrenkte ego en ‘n patetiese stemmetjie…..

Charles bederf ons met plaastjops, lewer en niertjies en krummelpap.

Vars skaapboud, rib en tjoppies is voorberei!

Feesmaal na feesmaal, ook vir Rumi!

Amelie  en Lia  neem ons op ‘n paadjie na hulle spesiale boom  waar hulle lê en lees tydens  kuiers op Zeekoegat. Die ou bloekom het baie jare gelede as saailing in ‘n sakkie op Zeekoegat aangekom. Ons klouter rond op die stam en Rumi besluit om ons voorbeeld te volg!

Deur die heinings en tussen die bome en die spruit waar geel, vallende herfsblare bewegende skilderye skep in die water, loop ons in verwondering. Die honde het ‘n fees in die spruit!

Saterdagmiddag gaan kyk ons na die nuwe lammers as die son sak op ‘n volgepropte dag! Nou-nou gaan die vuur knetter  vir nóg ‘n tjoppie of twee.

Die aand roep vir kuier om die vuur en Mamma Zanie en die twee meisies speel hokkie op die gras.

Sondagoggend: eers ouma Roos se spesiale verjaarsdag vier met ‘n heerlike ete: wildsboud en rugstring, stadig in die oond gaar gemaak! Dankie, Charles!

Ouma Rosemarie  se 70ste❤️

Die horlosie hardloop net te vinnig en daar is soveel  verkenning nog! Ons ry  teen die hange van die berg uit en besoek die ou berghut.

Alles diep ingeteug is soos salf vir ‘n stadsiel. Heerlik, betowerend, verfrissend en uniek.

Ons ry gou na die aangrensende plaas, Mispa, en Charles vertel van sy grootworddae hier.

Lia kry vir oulaas kans vir perdry voordat ons Zeekoegat moet groet. En so pak ons die pad terug  Bloemfontein  toe aan met harte en koppe vol seën en die mooiste  foto-album van herinneringe. Dankie Charles, vir groot bederf!!!

Ons mis jou boeta…

28 April 2025 – jou verjaarsdag. Ons kan dit nie meer vier soos destyds op Pringlebaai nie. Jy was altyd 4 jaar ouer en veel veel wyser. Nou is jy reeds meer as drie jaar weg.

Als voel steeds onwerklik, soos ons Nella se weggaan 20 jaar gelede. Ons verstaan nie die lewe nie. Ons begrip is net ten dele. Die werêld is nie ons woning  nie Boeta.

Uit vuur en ijzer

Uit vuur en ijzer, zuur en zout, zo wijd als licht, zo eeuwenoud,
uit alles wordt een mens gebouwd en steeds opnieuw geboren.
Om ijzer en vuur te zijn, om zout en zoet en zuur te zijn,
om mens voor een mens te zijn, wordt alleman geboren.

Om water voor de zee te zijn, om anderman een woord te zijn,
om niemand weet hoe groot en klein, gezocht, gekend, verloren.
Om avond en morgenland, om hier te zijn en overkant,
om hand in een and’re hand, om niet te zijn verloren.

Om oud en wijd als licht te zijn, om lippen, water, dorst te zijn,
om alles en om niets te zijn, gaat iemand tot een ander.
Naar verte de niemand weet, door vuur dat mensen samensmeedt,
om leven in lief en leed, gaan mensen tot elkander.

K Leuven

Dink aan jou en vier jou pragtige voorbeeldlewe. Wat weet ons? Absoluut niks. Dalk het Nella vir jou ‘n koek gebak en glimlag julle saam as julle aan ons dink.

“Life is a luminous pause between two mysteries that are yet one.”

— C.G. Jung

Die interval

NS : Jy sou die “Stories van Afrikaans” geniet het!

Boteti River Camp – Makgadikgadi

Die storie wat ek heeltemal van vergeet het! Sedertdien in Blogsluimer gegaan.

So kom die inspirasie om weer na konsepte van stories te gaan kyk! Hierdie ene lê nou reeds sedert Mei 2022! My en Roos se Namibië- Botswana toer met die BushLapa!

Ek het reeds heelwat hieroor geskryf, maar Boteti was soort van die laaste goeie kuier in Botswana.

Ons is verwelkom deur Grace en het kamp opgeslaan.

Grace

Grace is wat haar naam sê! Liewe mens! Sy en haar span, insluitend Lister, bestuur hierdie kuierplek namens die eienaars, Suid-Afrikaners!

Teen die walle van die Botetirivier.

https://www.google.com/search?client=ms-android-samsung-rvo1&sca_esv=58d0df3a52d22f31&hl=en-ZA&cs=0&sxsrf=ADLYWIIVfYSwAeyJzn-S5LHKI24wY8gE9w%3A1736274572593&kgmid=%2Fg%2F11h4gv8z_5&q=Boteti%20River%20Camp&shndl=30&source=sh%2Fx%2Floc%2Fact%2Fm1%2F4&kgs=131bb336b4965445i

Boteti lê nefens die bekende Makgadikgadi park. Die Botetirivier lê laag hierdie tyd van die jaar. Maar dit tenspyt is hier water terwyl die panne noord opdroog. Hier belewe ons ‘n ongelooflike gebeurtenis – die migrasie van honderde zebras vanuit die panne noord. Die olifante en seekoeie is ewwe gelukkig!

Africa changes you forever, like nowhere on earth. Once you have been there, you will never be the same. But how do you begin to describe its magic to someone who has never felt it? How can you explain the fascination of this vast, dusty continent, whose oldest roads are elephant paths? Could it be because Africa is the place of all our beginnings, the cradle of mankind, where our species first stood upright on the savannahs of long ago?”

-Brian Jackman

Waar die koeie wei in die wingerd.

Elke oggend se stappie bring iets nuut! So verfrissend en inderdaad groot motivering!

https://hbr.org/2021/02/dont-underestimate-the-power-of-a-walk

Ons is so bevoorreg om stapafstand van baie van ons wynplase te kan woon! Weet ek het dit al dikwels gesê, maar waar die hart van vol is loop die mond van oor!!

Bloemendal, D’Aria en Altydgedacht. Maastricht is bietjie verder wes.

Ongeag die seisoen is daar altyd iets wat jou verras!

Vanoggend het D’Aria se beeste hoog op gewei en was Rumi  baie geinteresseerd! Wat maak julle hier!!!

Twee koeie het op ‘n manier in die wingerd beland en lustig “gewei” aan die jong wingerd lote! Die trosse hang meer knus en dit het werklik gelyk asof die koeie besig was om net die wilde lote te “snoei”! Hierdie is normaalweg die werk van ‘n wingerd span. Wel, innoverend of toeval!!!

Daar is altyd iets nuuts!

Tyd om terug te stap! Rumi is in haar element!

Rumi kruip weg!

2025  – Jaar van mylpale

Dit is die derde dag van die nuwe jaar.

Wat maak hierdie jaar spesiaal? Wel, baie dinge, reken ek!

Vir ‘n begin – ek en Roos is 50 jaar getroud. Rozanne, ons meisiekind, het weer ‘n goeie vriend en vrede. Ons seun, Johann, gee sy hart vir sy pasiënte, ons Nella is  hierdie jaar reeds 20 jaar ons engelkind en ons hondekind, Rumi, is self ‘n engel op aarde.

Ons neem so dikwels alles as maar ‘n gegewe aan. Hoe kortsigtig! Wat is binne ons beheer? Rede, rasionaliteit? Ons strewe na die insig en wysheid van die redelike man? Nietige klein wesens met min beheer oor wat môre gaan bring. Tog bly die mens deur sy natuur grootbek.

Dit is die klein dingetjies wat saak maak. Die môredou, die uitstulp van ons granate en grenadellas, die voëls wat vroeg oggend kom dankie sê vir die saad in die bakkie wat hang aan die lemmetjieboom.

Wat is die mens op hierdie bal,  wat op ‘n “high” is danksy die Son?!

Kyk na die werêld en vrede bly uit. Kyk na jou kinders en kleinkinders en vrede kom lê knus in jou hart.

Nag, op die derde dag….

Geen Nuwejaar vir hierdie bokkie nie.

Die jaar is vars hier, op maar die 2de dag daarvan, as ons drie ons oggend stappie doen. Ek, Roos en Rumi vat die paadjie langs die wingerde van Bloemendal in die rigting van die Tygerberg. Hierdie boonste deel van die Majik Forest lyk net so vars vanoggend soos die jaar.

Rumi in haar element

Met ons dwars draai na die volstruise en rammetjierof verstar ons! Die lykie van ‘n alleen bokkie! Die slagoffer van ‘n rooikat? Sielig. So hartseer. Hy het nie eers die nuwe jaar gesien nie. Beeld van die broosheid van die lewe. My hart bloei vir hom. Dit is die realiteit van die lewe.

Arme bokkie

https://www.inaturalist.org/taxa/42376-Raphicerus-melanotis

Dink dit was ‘n klein Kaapse Grysbokkie.

Wie weet waar hy nou is? Teer, fyn en nou waar ons nie weet nie.

Perspektief. Ons versugting daarna.

Intussen is volstruis en sy wyfies vrolik in hierdie nuwe jaar.

Life goes on.

Die eerste dag.

Vandag is die eerste dag van nog ‘n nuwe jaar. Hoeveel was daar nie reeds nie? Genade of genoeg? Klink sinies nê?

Dit is nou reeds maande sedert ek laas kon skryf. Iets het net ‘n demper gebring. Geen idee wat en waarom nie. Net droogte, leegte en lamheid. Dit, tenspyte van Genade en goeie dinge. Net niks. Weet nie hoekom nie.

WordPress se kennisgewing van hernuwing teen ‘n goeie klompie dollar klop in die kop en verg ‘n besluit! Wel, dobbelsteen gerol en kom ons probeer dan maar weer. Daar lê nou reeds 3 konsepte vir meer as ‘n jaar!

Dalk moet ons weer probeer!

Waarvoor is ek dankbaar? Baie, maar sê dit nie! Gesondheid en die vermoë om nog te kan stap! Elke oggend en aand! Met Vroutjie en Rumi, maar soms net Rumi! Ons bly net duskant die hemel. Natuurparke en wingerde!

Rede om dankbaar te wees hier in die begin van 2025.

Mag dit ‘n goeie jaar wees!

19 jaar………..

23 September 2005 –

23 September 2024

Jasmyn

Sê vir my -
het 'n mens se siel 'n geur,
jou hart 'n kleur,
jou gees, jou diepste wese
vryheid?

Wat is in 'n naartjie
en wat is in kaneel,
in jasmyn en 'n freesia se geel
of is dit als maar reuk
of wat die oog kan steel.

Is donker altyd swart
en rooi ook maar net seer,
verlange pimpelpers
en kan groen maar net verteer
of kies ek wel my kleur,
my siel se eie geur.

Dis lente in die Kaap -
son verf pink oranje
op vroegaand wolkedoek
bo Du Toitskloof hang,
wat bring my hart verwarring
vreugde of verlange,
pastelle vir my siel.

My hart -
September in die Kaap
verf son se kwas net koper
strepies deur my kop,
soek ek tog so na wierook
vir my siel - jasmyn -
om deur my hart te spoel.

Die ink in my pen is droog

Maande het verloop sedert my laaste storie. Hierdie droogte is verterend. Voel soos ‘n koma. Aan die teenkant kognitief. Teenstrydigheid in terme. Wat is fout?

Dit is asof my pen se ink opgedroog het… Daar is net niks. My kop maal. Kinders word ontvoer en verdwyn net. Niks gebeur nie en hulle word vergeet. Dieselfde bedelaars staan by die kruisings. Die Malawiërs deel hul kontakstrokies uit. Die kombersman kruis die pad en ek wonder waar het hy laas nag geslaap. Ek stap met die hond en kry die vreemdelingwerksoeker by die spruit. Hy was homself en sy klere. My buurvrou is terminal. My seun is ‘n onkoloog en ek leef sy vreugde en verdriet. My dogter is ‘n arbeidsterapeut en deel privaat haar hemelkinders se vreugde.

Ek sien werêldleiers sogenaamde lewenswyshede uiter – vir politieke gewin. Nog ‘n skuiling in Gaza word vernietig om een terroris uit te haal en talle kinders sterf. Ek sien ‘n bykans drie jaar oorlog in Ukraine wat niks anders lewer as dood, verminking en vernietiging nie. Ek sien idiote politiek bedryf. Ek sien dapper atlete by die paralimpiese spele alles gee. Ek sien en hoor sogenaamde wêreldleiers wyshede spreek vir eie gewin.

Ek sien familie en vriende treur oor die verlies van ‘n geliefde. Ek lees blogs hieroor.

Ek kyk na die wêreld om my. Die ink in my pen is droog.

Ek sien versteurde verhoudings in families en skoonfamilies. Tussen bure. Tussen mense en hul diere. En ek wonder.

Ek dink aan Michener se verhaling van “The Source” en hoe die Midde Ooste op hierdie moment lyk. Suid Amerika se kartelle, die idiote in Amerika, die EU se migrante en Afrika se komediante.

My pen is voorwaar droog.

Ek dink aan my hond.

Ek dink aan die by.

En ek wonder……

Ek sien

En wonder….

Wat is die mens?

Is die Skepper ontnugter?

Die ink in my pen is droog…..