Ons het Ananzi en die groot ou rivier eergister gegroet.
Voort met die B1 na Mariental vir een nag se oumens oorstaan. Maar een stop was uit die hart uit nodig – die Withuis (“Whitehouse”) 15km noord van Grünau. Hoeveel keer het ons nie hier oorgeslaap nie. Van die kinders klein was en voltallig tot later jare toe dit net ons twee was. Dolf en Kinna de Wet het deel van ons Namibië geword. Maar Dolf is nie meer nie. Covid het hier ook harte kom stukkend skeur 10 maande gelede. Ons het Kinna ‘n stywe druk gaan gee, saam ‘n traan gepik en ons rou gedeel.
Met weg ry kry ons ‘n klein wildspasteitjie van die komende kerkbassaar se voorraad – naasteliefde het nie perke in hierdie land nie.
Een eindelose land van rou niks wat ten hemele skrei tot goue grasvlaktes en kameeldoring wat jou welkom heet- die wiele bly draai op die B1 noord.

Ons volgende rus – Waterberg Plateau park naby Otjiwarongo.