Ouderdom en nabetragting raak op ‘n stadium soort van sinoniem. Wel, ék weet wat ek hiermee bedoel. Dít is die belangrikste.
Op hierdie stadium is die brein se argief so vol lêers, sommige noodgedwonge “gezip”, ander ver agterin gebêre, nog ander heel voor en nog ander gevlag.
Onlangs is nog ‘n volume in die kategorie: “Nietigheid van die mens” oopgemaak. Nodeloos om te meld dat daar legio volumes oor hierdie onderwerp is : “Die mens se hart”, “Die mens se doel”, “Die mens en sy mense”, “Die mens en sy gewete”, “Die mens se onmenslikheid”, “Die mens en sy grootheidswaan”, “Die mens en sy mislukking”, en nog veel meer.
Met die gereelde stap in die natuur het ek onlangs weer ‘n beeld van die mens se verganklikheid waargeneem.
Oor eeue heen is die beeld van die lelies van die veld in baie godsdiensgeskrifte gebruik om die mens te laat verstaan dat hy die kommer oor baie aspekte van sy lewe uit sy hart moet weer. Dit laat die mens goed en knus voel. En dan? Dankbaarheid en liefde? Nee, geen ag slaan op die lyding van die massas nie, arrogansie wat net toeneem en lewe asof vir ewig.
Die Wet van die Liefde word met minagting bejeën. Dit gaan net oor Nou, Meer en Dadelik. Dit is waar die lelies van die veld nog ‘n ander veel sterker boodskap inhou: die realiteit van die totale verganklikheid van alles wat ons ken, van onsself en ons planeet.


Môre sterf die mens – met ‘n nalatenskap van koue genadeloosheid teenoor miljoene wat vermoor, vermink en honger gelaat is. En wat dan?














































