Die lelies van die veld.

Ouderdom en nabetragting raak op ‘n stadium soort van sinoniem. Wel, ék weet wat ek hiermee bedoel. Dít is die belangrikste.

Op hierdie stadium is die brein se argief so vol lêers, sommige noodgedwonge “gezip”, ander ver agterin gebêre, nog ander heel voor en nog ander gevlag.

Onlangs is nog ‘n volume in die kategorie: “Nietigheid van die mens” oopgemaak. Nodeloos om te meld dat daar legio volumes oor hierdie onderwerp is : “Die mens se hart”, “Die mens se doel”, “Die mens en sy mense”, “Die mens en sy gewete”, “Die mens se onmenslikheid”, “Die mens en sy grootheidswaan”, “Die mens en sy mislukking”, en nog veel meer.

Met die gereelde stap in die natuur het ek onlangs weer ‘n beeld van die mens se verganklikheid waargeneem.

Oor eeue heen is die beeld van die lelies van die veld in baie godsdiensgeskrifte gebruik om die mens te laat verstaan dat hy die kommer oor baie aspekte van sy lewe uit sy hart moet weer. Dit laat die mens goed en knus voel. En dan? Dankbaarheid en liefde? Nee, geen ag slaan op die lyding van die massas nie, arrogansie wat net toeneem en lewe asof vir ewig.

Die Wet van die Liefde word met minagting bejeën. Dit gaan net oor Nou, Meer en Dadelik. Dit is waar die lelies van die veld nog ‘n ander veel sterker boodskap inhou: die realiteit van die totale verganklikheid van alles wat ons ken, van onsself en ons planeet.

Môre sterf die mens – met ‘n nalatenskap van koue genadeloosheid teenoor miljoene wat vermoor, vermink en honger gelaat is. En wat dan?

Die einde van ‘n seisoen

Totsiens my liewe neef

Toe ek so ‘n paar jaar gelede die Potties-Whatsappgroep begin het, was ons neefs bevoorreg om familiebande weer so bietjie op te tel soos wat almal die sonsakfase betree het. Wat ‘n voorreg! Nou sit ek hier en dink hoe die reis na die anderkant sedertdien vir vier neefs reeds aangebreek het. Die ou wêreld is ons woning nie, maar grepe van kosbare momente bly. Kleintyd lawwigheid word opgeroep en strome van kosbare herinneringe vloei deur die gemoed. Ek dink aan jou, Tarra, met jou skewe hoed van oupa Piet en jou hart vol pret.

Pretmomente van vrolike nefies en niggies! Hoe het die tyd nie gevlieg nie.

Gerrie, die kuiers op Jan Fourieskraal was kosbaar. So ook die Kersvakansies op Hartenbos. Al was jy ouer en ek en kleinboet CP daai tyd groter maats, het ons paaie ná studies weer kosbaar gekruis. Ons het beide regte geswot en kosbare kuiers gehad toe jy by die PG begin werk het en ek begin aankla het. Heerlike en spesiale kuiers.

Ná die Pottiesgroep begin is, het ons lekker gekuier op Hermanus en Bantrybaai. Voor dit op Pringlebaai. En kosbare weersiens oor ontbyt by Tafels@Nitida.

Jou humor, jou passie vir die lewe en fynbos is in ons harte gegraveer. Jou liefde vir Irma was en is ‘n monument. Sy was jou volledige “ander helfte”.

Nou is jy en al die boeties weer by julle roosmamma – Ant Rose – ons liefste tannie van kleintyd.

Ons harte is stukkend vir Irma en die kinders, maar weet julle: ons ken en verstaan maar net ten dele. Eendag hoop ons om te verstaan.

Ek groet jou, my liewe neef, met van jou kosbaarste blomme. Rus in vrede en weet dat ons weer volledig bymekaar sal wees.

As jy weet die son sak

Sedert aftrede in 2017 is 4 van my ou kollegas en vriende reeds deur die poort na die ander wêreld. As jy 71 jaar gegun is weet jy wat genade is, maar neem die vrae ook toe. Teenstrydigheid – maar dit verg intense perspektief. Ons weet en verstaan bitter min van die lewe. Ons kennis is so ongelooflik beperk. Wat ons wel behoort te verstaan, is dat geboorte en sterfte twee kante van dieselfde munt is. Ons aanvaar dat ons in hierdie dimensie gebring is deur wil en beskikking, asook begeerte en liefde, maar ook as geskenk en vergunning.

Hierdie fase is onwillekeurig een van ‘n mengelmoes van emosies – vreugde, kommer, liefde, leed, woede, vrae, wroeging en net eenvoudig nie- weet. Net ‘n kleine spikkel in die geheel – tog daar en hier.

Terugblik is vir elkeen ‘n vingerafdruk – en nou is alles in ‘n sin volbring. Harte vol geprop van dank en trots. Harte gebreek, verskeur in flarde van onbeskryflike smart. Harte vol kommer. Harte vol trots. Harte verward. Harte vol vrees. Harte wat smag na ewige rus.

Tyd ook vir wyer perspektief – ‘n mensdom het sy skepping gefaal – honger, dors, naaktheid en wraak. Pyniging, dood, in ruïnes van waansin van gewetenslose verraad. Wat is my bydrae?

Sag is die sakkende son van vergiffenis, van troos, van onthou en in ‘n ou hart met liefde toevou.

Nou tyd vir stil word en vrede vind – rus vind. Om te weet alles is net genade. Om die kleinste en minste intens te sien en waardeer.

Kyk mooi!

Daar waar die Babalela woon.

Diep, diep in ‘n donker bos
waar die son net soms deur die takke loer,
diep, diep in ‘n donker bos
waar die varings welig diepgroen staan,
diep, diep in ‘n donker bos,
in ‘n hol boomstomp, net onder ‘n blaar,
woon die Babalela.

– Martie Preller

As jy hierdie storie saans vir jou kleingoed gelees het, is jy deel van die babablomgroep! ( “Baby boomers”) Nou, soos die sonsak vir ons aanbreek, herleef ons weer die Babalela stories saam met ons kleinkinders en ook met ons vierpootkinders: eers was dit Emma en nou Rumi. En raai bietjie wie is die Babalela hier in ons eie Majik Forest? Wat net oupas en oumas weet is dat die Babalela baie slim is en in ‘n eekhorinkie verander sodra mense te naby kom! Ons eie vrolike eekhorinkies!

Maar die Babalela is baie sku en kruip baie goed weg hier in ons eie bos!

Die blare ritsel! Ons weet hy is daar, maar hy kruip tog net so goed weg! Die kappertjies ritsel soos hy onder hul blaartjies deur vleg, en as jy baie goed kyk, sien jy hom wegglip tussen die sagte groen takkies van die ou akkerboom!

Rumi sê sy het verseker die Babalela gesien!!

Rumi

Wat weet ons? Wat verstaan ons? Hoe kry ons rus?

18 jaar is jy nou weg. Tog is jy hier. Die onwerklikheid van 19:50 23 September 2005 spoel steeds deur en oor ons. As hierdie Tsunami ons ook maar net geneem het.

Tog is jy hier – die hele tyd. Elke sekonde, elke minuut, elke uur van die voltyd van ons bestaan. Geboorte en sterfte, die kante van een munt. Ons is te klein en onbenullig om te verstaan.

“When you are sorrowful look again in your heart, and you shall see that in truth you are weeping for that which has been your delight.

– Kahlil Gibran

My voshaar kind, my dimpel kind, my tromboon-tuitmondtjie kind, my engelkind.

Volledig

Life is a luminous pause between two mysteries that are yet one.”

— C.G. Jung

Nog ‘n jaar sonder jou..

Where are you this moment?
Only in my dreams.
You’re missing, but you’re always
A heartbeat from me.
I’m lost now without you,
I don’t know where you are.
I keep watching, I keep hoping,
But time keeps us apart.

Is there a way I can find you,
Is there a sign I should know,
Is there a road I could follow
To bring you back home?

Winter lies before me
Now you’re so far away.
In the darkness of my dreaming
The light of you will stay.

If I could be close beside you
If I could be where you are
If I could reach out and touch you
And bring you back home
Is there a way I can find you
Is there a sign I should know
Is there a road I can follow
To bring you back home to me?

Source: LyricFind

Songwriters: Eithne Ni Bhraonain / Nicky Ryan / Roma Ryan

Jou verjaarsdag vandag – jy sou 43 gewees het ons voshaar meisiekind toe ‘n koperson oor die horison sak.

Mis jou so my kind. Dalk verstaan ons eendag…….

Ek weet nie…

18 jaar….