Almal weet van die Hel, maar niemand begeer dit as bestemming nie! Wel nie daai ene nie! Tog is daar ‘n Hel wat volgens almal wat eerstehandse kennis het, hemels is – Gamkaskloof in die Swartberge. Frik en Janine was al daar en het ons verseker dat hierdie pad na die hel jou altyd sal bybly! En dit was voorwaar!
Prince Albert verdwyn in ons truspieël, maar die heerlike kuier prut nog in die siel as ons die Swartbergpas vat – op daardie stadium slegs naweke oop vir verkeer weens vroeëre verspoelings en ook brande. En moet mens klim om by die pad na die Hel te kom! Dis toe nie die breë weg nie!


En dan die regs afdraai in die Gamkaskloof (die Hel) in, deur pragtige fynbos en met ‘n heel breë weg…… wel, aanvanklik…..
Die pad in hierdie hel in is bitter nou, maar ongelooflik mooi wat asem ophou en wegslaan laat bokspring! Maar, as ons uiteindelik onder by Ouma Sannie se Winkel stilhou, raak die hart rustiger en die uitsien na Oom Hannes se huis net groter.
Diep, dieper, diepste in die kloof in wag Oom Hannes se huisie, Maggie en die allermooiste ou Peperboom op ons. Tydens ons Karoosafari het ons telkens by elke afsaalpunt konsensus gehad dat die betrokke uitspanplek eenvoudig ‘wow’ is, en glo my hier ‘wow’ ons vier toe weer! Weet nie wat Maggie gedink het nie, maar sy het net hoogs professioneel gedoen wat sy moes doen – ons super tuis laat voel!
https://www.diehelboplaas.co.za/accommodation/rooms/6c5b7bb8-113e-4271-890e-7245a499bb4f
Oom Hannes se huis is een van vele pragtig gerestoureerde ou huisies in Gamkaskloof waarin daar ryke geskiedenis en herinneringe vasgevang lê. Jy voel werklik of jy teruggevoer word in tyd en deur jou gedagtes spoel telkens ‘n wonder oor al die lief en leed wat hier afgespeel het – die voorhuis waar huisgodsdiens saans by kerslig gehou is, die klein slaapkamertjies met emmer en waskom, die hartlike kombuisie waar die vuur in die ou Doverstofie hart en lyf knus en warm gehou het!
Die ou peperboom agter by die kombuisdeur gooi sy lang kronkel arms oor die braaiboma en die afkoelplaspoel, en Maggie (sien ‘Maggie’ – https://wp.me/saEL4t-maggie ) rond die kuierprentjie volmaak af.



Potjie prut, broodjie broei en die vuur se vlamme vou toe in warmte die hart en lyf. Tyd maak plek vir stilte en Maggie begelei ons voete deur die Kloof. Sy ken haar pad en lees jou gemoed. Ons verken tot diep diep in die kloof tot waar die paaie stop en skadus lank word.
Helaas het tyd ook oor pensioenarisse ‘n mag. Ons moet aangaan – en Maggie moet bly, maar sy weet dit goed en krul haar neer op die matjie voor oom Hannes se deur. Haar volgende gaste kruip sekerlik stadig af in die Kloof! Ook Maggie moet ‘n kansie kry om te oordink…..
When youth and summertime are gone,
And age puts quiet garlands on,
And in the speculative eye The fires of emulation die,
But as to-day our time shall be
Trembling on eternity,
While, still inconstant in debate,
We shall on revelation wait,
And age as youth will daily plan
The sailing of the caravan
THE COMMON LOT – John Drinkwater



































































