Totsiens sê aan ‘Bird’s Nest’ was toe nie so maklik nie, maar die gedagte aan ‘n koffietjie by Roger Young op Kruisrivier het darem getroos.
Hoe spoel kindertyd nie deur jou kop nie, as jou voete weer ou grond raak. Hier het ons by die groot ou vuurherd na Antjie se stories geluister en vetkoek geëet! Deur die agterste hekkie het die klein voetpad ons telkens na die rivier toe geneem vir kleilat gooi en stout wees! Sorgelose tye van nefie en niggie pret op die agterste ou stoep en jare later orals na vryplek soek!

Antjie se storieplek
Roger Young se storie is een vir ‘n ander dag want ons moet aanbeweeg!
Ons vat die pad oor Matjiesrivier en Grootkraal na De Rust. Ompad na Prince Albert, maar nie sonder rede nie! Deur Meiringspoort is mos ‘n moet as jy ‘n ‘safari’ deur die Karoo doen.
Die kleurvolle Prince Albert verwelkom ons. Die selfsorghuisie is luuks en lekker gesellig. Die boma en braai wag op ‘n knetterende vuur en goeie rooiwyn!
Prince Albert is ‘n paradys vir die rustige straatwandelaar, met prentjie mooi ou huise, winkeltjies, heerlike koffienessies en selfs ‘n eg tradisionele bioskoop!
Ons het heerlik gekuier en die konsensus mening was dat hierdie dorpie weer besoek moet word! Ons het nie eers by Weltevredeplaas uitgekom om Adamsvye te koop nie! Volgende keer! Nou die Swartbergpas aandurf na ons finale stop in die Hel ( Gamkaskloof) en Maggie.
























































